Jou webwerf praat dikwels namens jou onderneming – dis die gesig by die deur wat kliënte verwelkom en die gesprek aan die gang sit. Dit kweek ook belangstelling in jou produkte by dié wat nog rondsoek.
As webgebruikers verwag ons dat ons sal kry wat ons op die internet soek. Dis die eerste plek waar ons sien waarvoor ’n handelsnaam staan en of dit aan ons verwagtinge voldoen. Dis ’n plek waar sakemoontlikhede ontwikkel kan word, en beslis meer as bloot ’n aanlyn teenwoordigheid.
Maar die aanlyn tuiste moet ’n goeie indruk wek. Dit moet maklik navigeer, nuttige inligting bevat en op datum wees, en boonop goed lyk en by jou korporatiewe identiteit pas.
Aanlyn het jy direk kontak met jou teikengehoor en met ’n doelgerigte strategie, die regte hulpmiddels (soos responsiewe webontwerp) en gefokusde inhoud is die internet ’n goeie spanmaat – die plek waar dinge gebeur.
Waarom responsiewe webontwerp?
Responsiewe webontwerp, eenvoudig gestel, is wanneer die inhoud op ’n webwerf aanpas sodat dit leesbaar is op enige toestel waarop dit vertoon word, van slimfone tot tablette en rekenaars.
Dit beteken dat een webwerf voorsiening maak vir alle gebruikers op enige toestel, selfs wanneer nuwe toestelle uitkom – die webwerf pas op alle skerms, nou en vir altyd.
Ondernemings se webwerwe moet aanpas waar en hoe mense daarna kyk. Want as mense nie maklik kry waarna hulle soek nie, skuif hulle na ’n ander webwerf wat dit vir hulle makliker maak.
Woorde tel
Soekenjinoptimalisering (SEO) is ’n soort bemarking waardeur ons dit vir kliënte en soekenjins maklik maak om ’n webblad te kry, onder meer deur die gebruik van kernwoorde. Dit help dat meer van die regte mense by ’n webwerf uitkom en verhoog die kans dat daardie besoekers kliënte word.
SEO help dat potensiële kliënte op jóú webwerf beland, eerder as dié van ’n mededinger. Dis ’n kostedoeltreffende bemarkingsmiddel wat ’n goeie opbrengs op belegging lewer.
Laat Lemonade Hub jou help met jou aanlyn teenwoordigheid:
- Ontwerpdienste, soos webwerfontwikkeling, grafiese, kreatiewe en inligtingontwerp, asook vereenvoudigde inligting en infografika
- Aanlyn kommunikasiemiddele, soos die teksinhoud van ’n webwerf, webbaniere, advertensies, blogs en elektroniese nuusbriewe