Já vir nuuskierigheid – en die hoe en hoekom

Blog > Já vir nuuskierigheid – en die hoe en hoekom

Soos ons ’n nuwe jaar aanpak, het die Lemonade Hub-span besluit op ’n vars benadering vir 2019 – ons gaan nuuskierig wees. Of dalk eerder wéétgierig. Een van Albert Einstein se bekende (en nogal diepsinnige) aanhalings is: “Ek het geen spesiale talente nie – ek is net eindeloos nuuskierig.” Ons dink die briljante fisikus wou eintlik sê nuuskierigheid is die dryfkrag agter alle ontdekking, vernuwing en prestasie (eerder as dat hy bloot nederig was). Nuuskierigheid – die konstruktiewe soort – is die vlammetjie wat kreatiwiteit, leergierigheid en ontwikkeling stook.

 

As jy nie nuuskierig is oor hoe dinge werk of hoekom sekere goed is soos dit is nie, waarom sal jy ooit enigiets nuuts wil leer? Ons is slaggereed vir ons jaar van positiewe nuuskierigheid, en ons nooi jou om saam met ons die ontdekkingspad te stap.

 

Ontdek nuwe dinge

Kom ons waag dit buite ons gemaksones. Kom ons lees meer oor wat aan die gang is (of wat reeds gebeur het). Die internet het ’n skadukant, maar gee ons ook bekostigbare leergeleenthede. Of dit wetenskap, tegnologie, kuns, politiek, geskiedenis, kookkuns, mode of reis is wat jou opgewonde maak, probeer om elke week iets nuuts te leer. En as jou idees opraak, klop aan by ’n vriend of kollega en hoor waarin hulle belangstel – die kans is goed dat dit ’n nuwe vlammetjie by jou sal aansteek.

 

Hou aan leer

Leer ’n nuwe vaardigheid aan of skryf in vir ’n kursus. Probeer joga, branderry of ’n dansklas. Sluit aan by ’n klub. Begin tuinmaak of brei. Leer hoe om ’n motorband om te ruil. Navorsing wys lewenslange leerders is gelukkiger, emosioneel beter aangepas en leef boonop langer. Lewenslange ontwikkeling hou blykbaar ook demensie langer weg, veral as jy later in jou lewe kies om ’n nuwe taal te leer of aan te hou (of te leer) dans. Maak dus reg vir klasdraf, hetsy Xhosa, Frans, Mandaryns of rekenaarkodering!

 

Eksperimenteer en daag jouself uit

Dis menslik om mislukking te vrees, maar dis ook belangrik om jouself elke nou en dan uit te daag. ’n Mens kan lugtig wees om iets anders as jou elkedag-dinge te doen, maar die resultate is meestal verrykend. Of jy kies om ’n vertrek in jou huis oor te doen, leer om met krulkool te kook of een dag per week vegetaries begin eet, ’n afspraak waag met iemand wat hoegenaamd nie jou gewone tipe is nie, by ’n teater-, boogskut- of boekklub aansluit, nuwe sagteware leer gebruik, ’n nuwe tak of afdeling oopmaak of ’n nuwe diens of produk ontwikkel, dis belangrik om te onthou dat ons net soveel uit mislukkings as uit sukses leer. Waag daai sprong.

 

Wees oopkop (of leer meer oopkop wees)

Om deeglik te leer en te ontdek moet ons dikwels ons vooropgestelde idees en menings elders parkeer. Probeer om nie toe te laat dat jou gevoel oor “hoe dinge behoort te wees” jou ontneem van die geleentheid om nuwe dinge te leer nie. Moenie iets afskryf voordat jy dit probeer het nie. As ons vooraf krities teenoor iets is, is die kans veel kleiner dat ons ware insig daaroor gaan ontwikkel. Probeer objektief wees en jy sal dalk verras wees oor wat jy oor jouself (en ander mense) ontdek.

 

Vra vrae en wees weetgierig

Wat? Hoekom? Hoe? Waar? Wanneer? Hou aan vra. Kry die inligting – die régte inligting. As jy iets nie verstaan nie, vra totdat alles duidelik is. Luister deeglik – en nie net na antwoorde nie, maar ook na mense se menings, waarnemings en ervarings. Ons het almal verskillende metodes en beskouings. Bekyk gedrag, optrede en werk in aksie. Herhaal.

 

Daar is nuwe insigte, antwoorde en oplossings in hoe ander mense dink en doen. Neem daaruit wat vir jou werk en los die res. Maar jy sal nooit weet as jy nie vra nie.

 

Miskien hoort nuuskierige agies nié in die wolwehok nie

Nuuskierigheid en weetgierigheid maak ons meer gefokus, produktief en gemotiveerd. Dit gee ons waardevolle perspektief en vaardighede. Hoe beter ons die wêreld om ons verstaan, hoe beter is ons toegerus om ons omstandighede te hanteer en vooruit te beplan.

 

Die idioom lui dat nuuskierige agies in die wolwehok hoort, bedoelend dat ons ons neus uit ander mense se sake moet hou. Dis waar. Maar weetgierigheid is konstruktiewe nuuskierigheid. En inligting voed honger breine en les ’n dors na kennis. Kom ons volg die ontdekkingspad en word nuwer, beter weergawes van onsself.

Ingedeel by ,

Lemonade Hub

JONGSTE PLASINGS

Power_of_planning-opt

Die verskil wat doeltreffende beplanning (kan) maak

Duidelike en haalbare doelwitte is noodsaaklik vir sukses, hetsy in ’n persoonlike of sakekonteks. Hoe sal jy anders weet in...
Awesome

’n A+ vir daai bal wat terugwip

’n Lékker (soos in vol en vervullende) lewe hang af van drie dinge – houding (jy kan jou reaksie kies),...
tablet-626090_1280

Werk jou webwerf steeds nie op tablette en slimfone nie?

Jou webwerf praat dikwels namens jou onderneming – dis die gesig by die deur wat kliënte verwelkom en die gesprek...
communication consultancy that specialises in content strategies, copywriting and information design

Hoe om geloofwaardige stories oor jou onderneming te vertel – en waarom jy moet

’n Goeie storie gryp ’n mens se verbeelding aan en praat met jou emosies. Dit kan sensasie opwek of lojaliteit...
communication consultancy that specialises in content strategies, copywriting and information design

Kommunikasie kan ’n kopskudstorie wees – hoe maak mens?

Dis normaal om soggens op pad werk toe te sien hoe bestuurders gebaretaal gebruik as protes teen mede-padgebruikers se slakkepas...

Maak Kontak

WhatsApp us
+27 82 824 8440

Volg ons op