Gehaltetyd. Dis ’n term wat ’n mens baie hoor en wat dikwels misverstaan word – al is dit met eerbare bedoelings. Werkende professionele mense ervaar baie druk om “gehaltetyd” saam met geliefdes deur te bring, veral as ’n mens (geregverdig, of nie) voel dat jy hulle die hele jaar afgeskeep het – ouers, lewensmaats, vriende of kinders.
Daarom haal ons maar diep asem in die Desember/Januarie-breek en maak ons gereed vir die sosiale en verbruikersmynveld. En dít juis wanneer ons op ons moegste is.
Waarom doen ons dit? Want ons voel verplig om te vermaak, te verwelkom, om geskenke te gee wat ons waarskynlik nie kan bekostig nie, om vakansies te hou op eksotiese plekke wat eintlik net dié met respektabele geldeenhede werklik kan bekostig.
Ons byt op ons tande (glimlaggend) en verdra skoonfamilie en uitgebreide familie. Ons eet te veel. Ons drink te veel. Ons vat ons kinders na duur besienswaardighede met te veel mense – winkelsentrums, museums, pretparke, strande en flieks – alles in die naam van … ja. Daardie vreemde, misverstane begrip. Gehaltetyd.
Soos ons 2018 se lawwe seisoen in hinkepink – moeg, oorweldig en hunkerend na behoorlike rus en ontspanning – wil ons graag ’n nuwe definisie vir gehaltetyd voorstel wat baie meer op die self fokus.
Maak hierdie vakansie seker dat jy jou eie metaforiese put vul – minstens vir ’n gedeelte van die jaareindbreek. Tyd alleen en tyd waarin jy doen waarvan jy hou, sal van jou ’n beter dogter, seun, lewensmaat, vriend of ouer maak.
Die analogie wat dikwels gebruik word om vir onsself te sorg sodat ons beter vir ander kan sorg, is dié van die suurstofmasker in ’n vliegtuig. Die kajuitbeampte herinner ons tydens die veiligheidsaankondigings op enige vlug dat ’n ouer in geval van nood, éérs ’n goeie teug goeie ou O2 moet neem voordat kinders of ander afhanklikes gehelp word.
Waarom? Want as jy flou word weens ’n gebrek aan lug, beteken jy vir niemand iets nie – ook nie vir jouself nie. Jy moet inasem sodat jy al jou vernuf en energie kan inspan om die situasie te hanteer.
Dít is waarom ons jou hierdie feesseisoen aanmoedig om jollifikasie te hou. Jolyt te maak. En om dit goed te doen. Dit beteken egter nie om te veel rumpons te drink en om saam met watewwer herhalende Boney M-Kersliedjie wat oor die radio blêr te sing en dans nie. Dit beteken wel om tyd te maak om pret te hê en te doen waarvan jy hou. En om dit te doen saam met die mense wat jý verkies. Nie met iemand wat jy voel jy moet nie.
Of beter nog, vat tyd om alleen te wees en dinge te doen waarvan jy hou – op jou eie. Lees. Stap. Swem. Verf – ’n skildery of jou vingernaels, dit maak nie saak nie. Vat ’n lang bad en ’n nóg langer middagslapie. Kry ’n stil hoekie in ’n koffiewinkel of openbare park en hou mense dop. Drink tee. Stadig: slukkie vir slukkie. Wéés net.
Ons bestee heeltemal te min tyd alleen en onderskat die waarde daarvan. Doen ’n noukeurige innerlike ondersoek. Vind uit hoe dit met JOU gaan. Hoe dit REGTIG gaan.
Moenie dit forseer nie. Kalm en rustig. Die hele punt van die oefening is dat dit moet eg wees om regtig waarde te hê, om van gehalte te wees. Dit moet opreg wees en voel, suiwer en genesend.
Die Iers gebore 18de eeuse romanskrywer Laurence Sterne het opgemerk: “In afsondering, word die gemoed sterker en leer om op die self staat te maak.” Vandag sou iemand straks sê: “Daai’s waar.”
Moenie dit vergeet nie en skenk dit aan jouself hierdie feesseisoen. Sonder om skuldig te voel. Want dit maak jou beter geselskap. Want dit maak jou ’n meer doeltreffende werker volgende jaar. En om martelaar te speel? Wel, niemand het tyd daarvoor nie!