’n Goeie storie gryp ’n mens se verbeelding aan en praat met jou emosies. Dit kan sensasie opwek of lojaliteit bou. Dit kan mense anders laat dink en geesdriftig laat saampraat.
’n Goeie storie kan mense hoop gee of moed laat verloor, laat nadink of tot optrede aanspoor. Dit kan ons bang of verontwaardig maak, maar ook behaaglik laat sug van tevredenheid.
Stories inspireer.
Dis presies waarom ondernemings hulle stories aan die wêreld moet vertel. Dit geld selfs vir die frons-stories, want hulle kan wys watter les hulle daaruit geleer het. Gryp die geleentheid aan om te wys hoe dinge nou beter gedoen word. Só wys ondernemings hoe betroubaar hulle is.
Maar loop katvoet: Deel net wat nodig is. Praat reguit.
Stories is ’n fantastiese vorm van bemarking, veral as ander mense die storie oorvertel. Stories lig die menslike faktor uit. Dit sê: Hier’s die mense wat ons produkte uitdink, verpak, pos en aflewer. Hier’s die mense wat die foon beantwoord en wat ons strategieë bedink. Stories maak dat verbruikers aansluiting vind by ondernemings. En dit laat die span voel hulle word raakgesien en waardeer.
Die arbeidsmag van die toekoms bestaan dalk grootliks uit robotte wat soos mense lyk, met kunsmatige intelligensie. Alles raak al hoe meer outomaties en generies en al hoe minder persoonlik.
Maar tans is ons kliënte steeds mense. Mense wat geïnspireer en vermaak wil word. Mense wat spesifieke ondernemings kies, nie net omdat hulle van die werk of produkte hou nie, maar omdat hulle met die waardes en gevoeligheid identifiseer. Mense wat nie uitgeput wil word met vervelige feite en syfers nie. (Natuurlik maak die balansstaat saak, maar sonder stories is dit bloot werk, werk, werk – ’n boog wat gespanne bly en nooit die teiken tref nie.)
Ons het nie almal ’n gladde tong nie. En korporatiewe kommunikasie is ’n kat wat liefs nie sonder handskoene aangepak moet word nie. Nie elke nuusbrief, e-pos of plasing op sosiale media kan dieselfde inhoud, styl of stemtoon hê nie. Kies dit wat by die teikengehoor pas. Hier’s ’n paar wenke oor hoe om die regte stories te kies en dit goed te vertel. Stel dit op die proef (of as jy nie die tyd of inklinasie het nie, sal ons dit vir jou doen).
Wees eerlik en gebruik eenvoudige taal: Vermy “groot vis”-stories. Wees presies en direk. Moenie baie byvoeglike voornaamwoorde en bywoorde gebruik nie. Korporatiewe kommunikasie moet maklik lees en verstaanbaar wees.
Meng dit: Lig verskillende aspekte van die onderneming uit. Persoonlike stories oor spanlede moet relevant wees. Foto’s en grafika in nuusbriewe, op sosiale media of in e-posboodskappe moet van goeie gehalte en toepaslik wees.
Moenie te tegnies raak nie (selfs al is dit tegnies): Selfs al is dit die maandelikse nuusbrief van die Astrofisikavereniging van Amsterdam: hou dit gebalanseerd. Moenie te veel moeilike woorde of groepstaal gebruik om slim te klink nie. Bemagtig eerder die lesers deur hulle slim te laat voel. Hoe? Maak dit vir hulle maklik om te verstaan wat jy met hulle probeer kommunikeer! Dit is die teken van goeie kommunikasie. Dit gaan oor die leser, nie die skrywer nie.
Gebruik gepaste humor (moenie gevoelloos of oppervlakkig wees of die spot dryf nie): Humor trek mense in. Beskeie, vriendelike skertstaal en snaakse staaltjies laat ondernemings eg en bereikbaar lyk. Maar toets die inhoud eers om seker te maak die stemtoon en storie is geskik.
Gee erkenning aan dié wat dit verdien: Gee altyd erkenning aan mense wat hard gewerk het of iets merkwaardigs gedoen het om die onderneming te laat groei. Iets soos “Werknemer van die maand” of ’n kort artikel in ’n nuusbrief – dis die stories oor menslike prestasie en uithouvermoë wat ons almal aan die gang hou. Ons het almal soms ’n pluimpie of teken van goedkeuring nodig. En om personeelinsette in stories in te werk is boonop goed vir die onderneming se beeld.