Dis normaal om soggens op pad werk toe te sien hoe bestuurders gebaretaal gebruik as protes teen mede-padgebruikers se slakkepas of ander padsondes. ’n Ander normaal is koerantopskrifte oor die jongste skandaal of alledaagse gerug oor korrupsie. In Suid-Afrika sien ons dit gereeld: Ons verwonder ons, skud ons koppe, drink ’n koppie koffie en gaan aan met ons werk. Steur ons ons dan nie meer daaraan nie?
Kommunikasie in Suid-Afrika (en elders) bly ’n warm patat. Nie net moet ’n mens globale aktuele veldtogte soos #BlackLivesMatter en #MeToo in ag neem nie, maar verskeie kulture en tale ding boonop mee om aandag. En dan is daar ook nog die uitdaging van politieke korrektheid. Hierdie mynvelde kan jy nie sonder duidelike kommunikasie aanpak nie.
Verwarrende faktore
Verskeie faktore beïnvloed die manier waarop ondernemings hulle interne kommunikasie, eksterne bemarking en openbare betrekkinge hanteer. Want die groter prentjie behels ook korrupsie, beurtkrag, ’n wispelturige ekonomie en probleme met dienslewering en basiese dienste soos pos, gesondheid, behuising en sanitasie.
Soos die skrywer, joernalis en politieke kommentator Allister Sparks al in 2012 oor die atmosfeer van ontevredenheid in Suid-Afrika gesê het: ” … daar [is] ’n groot hoeveelheid frustrasie, en woede ook, in ons samelewing … oor die onvervulde beloftes van die oorgang, die onregverdigheid van die flagrante ongelykheid en die gevoel, veral onder die jeug, dat hulle eenvouding nie deel is van die beloofde land nie.”
Sparks was van mening dat hierdie atmosfeer van ontevredenheid die gevolg van hoë verwagtinge is: “… wat ons sien, is iets wat die meeste revolusies deur die geskiedenis in gemeen het – ’n herhalende siklus van ontnugtering, want die verwagtinge van die revolusie kan nooit vinnig genoeg bereik word nie. Verandering is altyd te stadig en die verwagtinge altyd te dringend. Dit neem tyd om ’n ingewikkelde samelewing te verander, net soos dit baie seemyle vat om ’n supertenkskip te draai. Dié wat wag op die vrugte van die stryd, verloor geduld en voel verraai.”
Hoe om kommunikasie in hierdie konteks te hanteer
Interaksies rondom ras, geslag, seksuele oriëntasie, kwalifikasies, sosiale klas en ander warm onderwerpe raak dikwels aggressief en word kanonvoer. Geen ordentlike onderneming wil in die middel vasgevang word nie.
Wat beteken dit vir professionele kommunikasie? Dit moet so duidelik soos daglig wees: presies, beleef en neutraal. Maak seker dat dit wat die luisteraar hoor en dit wat jy sê, dieselfde is. Moenie dat ’n onverskillige woord tot ’n onnodige ontploffing lei nie.
Hou die onderstaande wenke in gedagte:
- Dink mooi oor wat jy wil sê, veral wanneer dit kom by enige materiaal met jou handelsnaam op wat die publiek dalk kan lees, soos mediavrystellings, artikels of nuusbriewe.
- Hou politieke kwessies en kultuur in gedagte.
- Maak seker jou inligting is akkuraat en feitelik. Kan dit verkeerd verstaan word? Kan dit as aanvallend beskou word?
- Kry regshulp om alle ooreenkomste en kommunikasie op skrif te bevestig. As jy alles volgens die wet doen, kan jou naam moeiliker deur die modder gesleep word.
Kundige hulp
As jy kundige hulp nodig het vir jou kommunikasiemateriaal, beeldbemarking en openbare betrekkinge, kontak ons vandag nog by Lemonade Hub.