Op hete kole is goed vir ’n tjoppie, maar nie so goed vir sakebesluite nie

Blog > Op hete kole is goed vir ’n tjoppie, maar nie so goed vir sakebesluite nie

Wat kan Braaidag ons leer oor produkposisionering?

In Suid-Afrika vier ons op 24 September ons land se unieke kulturele diversiteit. Braaidag is nou al so goed ingeburger dat sommige mense nie eens weet dis eintlik Erfenisdag nie. Die Braaidag-idee het in 2005 ontstaan, in erkenning van die tradisie wat alle (wel, die meeste) Suid-Afrikaners in gemeen het. Dit bevorder die idee dat verskeidenheid, eerder as iets wat konflik skep, ’n nasionale bate is. Dis die dag waarop ons ons Suid-Afrikaansheid kan geniet. Ongeag taal, streek of geloof, ons deel ’n erfenis van braai, shisa nyama of ukosa.

Maar hoekom was die Braaidag-idee so suksesvol? Die antwoord lê in die posisionering. Dit het Suid-Afrikaners, die verbruiker, se hartsnare geroer. Die sukses van Braaidag wys hoe doeltreffende posisionering tot sukses bydra.

’n Identiteit vir álle Suid-Afrikaners

Die man agter Nasionale Braaidag is Jan Braai (Jan Scannell). Sy idee was ’n bydrae tot nasiebou: Suid-Afrikaners het ’n gedeelde aspek van Suid-Afrikaanse kultuur herken en met ope arms verwelkom. Slim bemarking en posisionering het nie net Jan Braai se sukses versterk nie, maar ook vir die openbare vakansiedag ’n saambindende en positiewe beeld vir Suid-Afrikaners van alle kulture geskep.

Posisionering is ’n belangrike aspek in die ontwikkeling van ’n doeltreffende bemarkingstrategie – en ’n mens weet hoe dit smaak nadat die tjoppie op die kole was.

Posisionering

Posisionering gaan oor hoe iets aangebied word sodat dit vir die teikenverbruiker uitstaan en betekenis het. Dit is ook die ding wat jou diens van mededingers s’n onderskei en skep as’t ware ‘n eie lewe in die verbruiker se kop. Dis die rede waarom sommige mense Pepsi sal drink, maar talle ander mal oor Coke sal wees.

Posisionering verseker dat alle aktiwiteite rondom ’n handelsnaam dieselfde doelwit het. Die handelsnaam lei, rig, dra en fokus al die kontakpunte met die verbruiker. Nie net lig dit die lewensvatbaarheid van ’n produk of diens uit nie, maar dit kan ook lei tot ’n nuwe koers en ontdekking van nuwe geleenthede tydens die afbakening van ’n duidelike nismark.

Posisionering en strategie is ’n duidelike rigtingaanwyser vir die ontwikkeling van ’n handelsnaam, asook die toekomstige bemarkingsplanne. Dit is ’n spesialisveld wat verkieslik deur kundiges gedoen moet word vir die beste resultate.

Posisionering blaas die vuur aan

In Positioning: The battle for your mind, beklemtoon Al Ries en Jack Trout die idee dat ’n mens ’n deurslaggewende insig nodig het vir posisionering – iets wat gebruik kan word om die mededingende voordeel te kry, iets wat die spesifieke manier identifiseer waarop die handelsnaam die probleem oplos of ’n geleentheid vir die verbruiker skep. So ’n insig moet langdurig wees en vorm die basis vir die posisionering.

In Jan Scannell se geval was baie van die dinkwerk reeds gedoen, maar hy het die geweldige potensiaal van “braai” gesien en die geleentheid aangegryp. Braai was iets wat Suid-Afrikaners reeds as ’n waardevolle entiteit gesien het en deur Nasionale Braaidag te posisioneer as ’n manier om die nasie saam te bind, illustreer dit hoe ’n deurslaggewende insig in sosiale gedrag en kulturele diversiteit tot ’n eenvoudige, maar kragtige konsep en handelsbeeld kan lei.

Die naam

Die handelsnaam is die eerste kontakpunt tussen die boodskap en die verbruiker. Of ’n naam uitsonderlik is of nie, bepaal nie altyd die doeltreffendheid daarvan nie – dit gaan oor hoe gepas die naam is. Aanvanklik het Nasionale Braaidag dalk verspot geklink, maar soos die naam die posisioneringsproses begin (en die afgelope 15 jaar gedra) het en verbruikers die nut daarvan laat insien het, is die voordeel van Braaidag duidelik bevestig.

Jan Braai se veldtog was so suksesvol dat die Nobelvredepryswenner emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ingestem het om ’n beskermheer van Nasionale Braaidag te wees. In 2007 het die inisiatief die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Nasionale Erfenisraad ontvang. Jan Braai het ook ’n openbare persoonlikheid geword en het sy eie resepteboek, Vuurwarm, gepubliseer en was die gasheer van die televisieprogram Jan Braai vir Erfenis. Intussen het die Braaidag-konsep ook verder gegroei en spog al met ’n Braaidag-app en selfs ’n Braaidag-lied.

Lemonade Hub se dienste is sakpas en volgens behoefte. Laat ons jou help met doeltreffende strategiese beplanning en beeldbemarking. Kontak ons vir ’n konsultasie – ons word graag jou dinkvennoot!

Vernita

JONGSTE PLASINGS

Power_of_planning-opt

Die verskil wat doeltreffende beplanning (kan) maak

Duidelike en haalbare doelwitte is noodsaaklik vir sukses, hetsy in ’n persoonlike of sakekonteks. Hoe sal jy anders weet in...
Awesome

’n A+ vir daai bal wat terugwip

’n Lékker (soos in vol en vervullende) lewe hang af van drie dinge – houding (jy kan jou reaksie kies),...
tablet-626090_1280

Werk jou webwerf steeds nie op tablette en slimfone nie?

Jou webwerf praat dikwels namens jou onderneming – dis die gesig by die deur wat kliënte verwelkom en die gesprek...
communication consultancy that specialises in content strategies, copywriting and information design

Hoe om geloofwaardige stories oor jou onderneming te vertel – en waarom jy moet

’n Goeie storie gryp ’n mens se verbeelding aan en praat met jou emosies. Dit kan sensasie opwek of lojaliteit...
communication consultancy that specialises in content strategies, copywriting and information design

Kommunikasie kan ’n kopskudstorie wees – hoe maak mens?

Dis normaal om soggens op pad werk toe te sien hoe bestuurders gebaretaal gebruik as protes teen mede-padgebruikers se slakkepas...

Maak Kontak

WhatsApp us
+27 82 824 8440

Volg ons op