Kom ons wees eerlik met onsself en met mekaar: Ons is elkeen gekondisioneer met ’n sekere weergawe van: Dís hoe dinge gedoen behoort te word. En ons glo dit regtig – emosioneel én rasioneel. Ons begin bou aan hierdie storie van geboorte af.
Party van ons glo vurig dat almal ’n plantgebaseerde dieet moet volg.
Party van ons glo die aarde is plat.
Party van ons wens hartstogtelik dat mense hulle diere so lief sal hê soos ander mense en aan hulle dieselfde regte sal toeskryf.
Party van ons dink kinders moet gesien en nie gehoor word nie, terwyl ander net so geesdriftig glo dat hulle skattebolletjies hulself vrylik moet kan uitdruk (in restaurante, hard en duidelik) waneer hulle wil.
Party van ons glo in ’n man se reg om baie vroue te hê.
Party van ons glo die doodstraf dien ’n doel.
Ensovoorts.
Ons opvoeding en invloede sosialiseer ons om sekere waardes en vooropgestelde idees te hê oor hoe dinge gedoen “moet” word. Hoe dinge “hoort”. Dis nie moeilik nie.
Party mense is fanaties oor die moet, want hulle klou hardnekkig vas aan hulle idees en word moeilik van iets anders oortuig. Hulle is onversetlik en bestaan aan albei kante van die politieke spektrum: regs (konserwatief) en links (radikaal liberaal).
As dit kom by vroueregte en geslagsgelykheid en -gelykwaardigheid van betaalskale, sal ’n konserwatiewe persoon iemand wees wat met oortuiging glo dat vroue nie geregtig is op dieselfde voordele as hul manlike eweknieë nie.
Aan die ander kant, sal ’n linkse bittereinder iemand wees wat ingrypende verandering in genderkwessies soek en geheel en al onverdraagsaam sal wees teenoor enige manlike twyfel rondom vrouebemagtiging.
Waar is die middelgrond in dit alles?
Suid-Afrika se grondwet en ’n dag soos Vrouedag gee erkenning aan die krag van vroue om positiewe verandering te fasiliteer. Dit is ’n herdenking van wat moontlik is.
Die feit is egter dat ons almal sal moet saamstaan om die nodige verandering teweeg te bring, ongeag geslag. Werklike en permanente verandering ten opsigte van byvoorbeeld ware geslagsgelykheid kan nie gebeur sonder die inkoop van alle geslagte nie.
Wat het ons nodig? Ons moet oper wees. Ons moet luister met ons harte. Ons moet gemeenskaplike terrein vind. Om dit te doen, moet ons ook eerlik wees oor iets anders.
Ons voel almal, om verskillende redes, soms bedreig en geïntimideer deur ander mense. Miskien omdat iemand wonderlike hare het, welsprekend is of stiptelik, professioneel en gesaghebbend. Of omdat hulle maer, ryk of netjies is. Of gewild. Of lank. Of goed grappe kan vertel. Of wonderlike maaltye kook.
As ons eerlik daaroor is en dit aanvaar, is dit makliker om te hanteer. As jy erken en aanvaar dat jy geneig is tot ’n sekere manier van hoe dinge gedoen moet word, kan jy met meer bewustheid optree.
Sosiaal kom ’n mens in aanraking met verskeie mense: vroue, mans, kinders, bejaardes, kranklikes, mense met verskillende pigmentasie, haarstyle, belangstellings, doenstyle, gewoontes, eerste tale (ensovoorts). Al wat jy hoef te doen, is om ’n bietjie oper vir hul stories te wees.
Vroue, leun nader en sê wat julle behoeftes is. Mans, leun nader en luister meer. Vroue, besef dat baie mans net so onseker voel oor hul rol en posisie in die samelewing as julle.
Reik uit en vind iets wat jy in gemeen het met iemand wat jy nog nie ken nie. Ons almal het iets in gemeen, al is dit bloot om op te kyk na die sterre en oor iets beters te droom. Onthou dit en omarm dit.