In die meeste gemeenskappe word die hardwerkendes onder ons opgehemel en vereer. Uithouvermoë, passie en toewyding is inderdaad eerbare eienskappe. Die najaag van uitnemendheid en prestasie klink in teorie soos iets waarna ons almal moet strewe. Maar onrealistiese verwagtinge en doelwitte wat verkeerd bestuur word kan ook lei tot die soort stres wat toksies én teenproduktief is.
Die Amerikaanse kollegeprofessor dr. Brené Brown bestudeer die afgelope twee dekades moed, kwesbaarheid, skaamte en empatie en maak die volgende (ironiese) gevolgtrekking: “Dit vat moed om ja te sê vir rus en speel in ’n kultuur wat uitputting as ’n statussimbool beskou.”
Dis ’n stukkie in-die-kol (maar ietwat tragiese) ironie.
Om minder besig te raak is makliker gesê as gedaan. Ons voel verplig om met allerhande dinge besig te wees en verskeie balle in die lug te hou in die balanseertoertjie van die lewe. Kom ons erken dat wanneer vriende, familie en kollegas vra hoe dit met ons gaan, ons trots antwoord: “Ek’s so besig! Dinge gaan rof by die werk/huis! Ek het so baie projekte aan die gang, ek kan skaars reguit dink!” Rondskarrel op enige vlak gee dikwels vir ons betekenis aan die lewe.
Maar terwyl ons almal ’n inkomste wil hê om die rekeninge te kan betaal en ’n gekose lewenstyl te geniet, moet ons ook af en toe tyd afvat. Of jy nou ’n uitvoerende hoof is of iemand wat dinge in en om die huis regeer, almal het tyd weg van ’n spesifieke rol nodig. Jy moet tyd hê om ’n ander jy te wees; een wat jou werksgereedskap en sielkundige wapenrusting minstens een maal ’n jaar neerlê, as jy dit nie elke paar maande kan doen nie.
Verskeie mediese studies, of dit nou suiwer fisiologies, neurologies of sielkundig is, getuig hoe belangrik rus en ontspanning is. Dit is noodsaaklik vir goeie funksionering. Jy móét jou werkgefokusde brein, jou rekenaar en jou selfoon elke nou en dan afskakel. En. Net. Ontspan. Niks. Doen. Nie. Of in elk geval nie veel nie.
Daar is geen twyfel dat dit vir sommige mense makliker is as vir ander om hulle van hul professionele lewe te onttrek en af te sluit van die digitale wêreld nie. Maar met ’n bietjie dissipline kan dit gedoen word. Dink só daaraan: Om te rus en tyd af te vat, is niks anders as beheer oorgee en leer aanvaar dat die aarde sal aanhou draai, of jy nou amptelik deel is van die proses of nie.
En weet jy wat? Die aarde sál aanhou draai. Jy kan net sowel vir jouself sorg en weer leer hoe om te rus. Herinner jouself hoe om pret te hê. Leer jouself niks doen nie. Dit sal jou goed doen. Jy sal meer kreatief wees. Meer energie hê. Meer geduld. Oper wees. En gelukkiger.
Hier teen die einde van die jaar vra ons jou om moed te hê. Sit neer daai foon. Maak toe die skootrekenaar. Vat ’n middagslapie, swem, gaan stap, bad lank. Hou iemand vir wie jy omgee se hand vas. Staar na die vlamme van ’n vuur of die sterre, pleks van ’n skerm. Jy sal verbaas wees oor wat jy als daar sien.